Powered By Blogger

Thursday, May 20, 2010

Sonder U is daar geen vrede

Jes. 52: 7 - Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion se: "Jou God is Koning"

Genadige Vader, osn aanbid U as die God van vrede; Here Jesus, ons aanbid U as die Prins van vrede; Heilige Gees ons aanbid U as die Gees van vrede. Ons staan ootmoedig voor U ter wille van vrede op aarde. Ons het berou oor die onversoenlike gees van onvrede tussen mens en mens; tussen ras en ras, tuseen ouers en kinders, tussen man en vrou, maar veral tussen ons en U!
Gee aan ons U vrede wat alle verstand te bowe gaan. Weerhou die hand van die Bose: die radikales, die terroriste en die anargiste. Verander hulle harte deur u skeppende Heilige Gees. Suiwer ons liefde, Here, bewerkstellig in ons harte 'n gees van versoening en vrede. U woord se duidelik dat daar stryd en konflik sal wees, maar dit wys ook duidelik die pad na vrede vir ons aan. Ons weet in ons diepste wese dat daar buite U vir ons geen vrede is nie. Laat ons in U sagte voetstappe van vrede volg, Here Jesus. Ons dank U vir u Woord wat vir ons 'n lig werp op die donker pad. Maak ons gehoorsaam aan die eise van u Woord sodat ons vrede sal ontdek. Ons hef ons hande biddend tot U op: "Here, gee vrede in ons tyd!"

Vrede
Gabriel

Tuesday, May 11, 2010

Redes Waarom mense nie tot oorgawe kom nie

1. Mense begryp nie werklik hoe groot God se liefde vir hulle is nie.
2. Hulle besef nie hoe sondig hulle is nie en is tevrede met hulle lewe.
3. Hulle is onwillig om met 'n spesifieke sonde in hulle lewe te breek.
4. Hulle is bang dat God dinge van hulle gaan vra wat hulle nie wil doen nie.
5. Hulle is onkundig oor al die geestelike rykdom wat God aan sy kinders gee.
6. Hulle bely dat sonde opstand teen God is, maar weet nog nie wat lewe is nie.
7. Hulle begryp nie wat die vernietigende krag van sonde in hulle lewe is nie.
8. Hulle twyfel of God regtig hul sonde sal vergewe.
9. Hulle vind die gedagte om as Christen te leef onaantreklik.
10. Hulle is bang dat hulle nie sal volhard nie.
11. Hulle sien nie die resultaat van die evangelie in die lewe van ander Christene nie.
12. Hulle glo nie regtig dat onbekeerde mense vir ewig verlore gaan nie.

Waar pas jy in? Antwoord jouself eerlik en doen iets daaraan.

Vrede
Gabriel

Monday, May 10, 2010

Die Evangelieboodskap

God het ons goed geskep en Hy gee om vir ons. Daarom wil Hy he dat ons in 'n verhouding met Hom moet lewe. Maar ons het in opstand gekom teen God. Ons verontagsaam Hom. Ons sonde het 'n kloof tussen ons en God veroorsaak en daarmee is die verhouding tussen ons en God verbreek.

Die meeste mense is diep binne-in bewus van hierdie kloof tussen God en ons en hulle probeer daarom die kloof oorsteek deur goeie dade te doen, soos om behulpsaam te wees, kerk toe te gaan en geld te gee vir armes. Dit alles is goeie dinge en daar is niks mee verkeerd om dit te doen nie, maar die Bybel maak dit duidelik dat niemand deur wat hy/sy doen, God se vergifnis kan koop of die verhouding tussen God en hom/haar kan herstel nie.

God se regverdigheid eis dat die sonde gestraf moet word. Die straf wat ons verdien, is die dood, wat beteken dat ons geestelik dood is en vir ewig van God geskei is. Dit is maar 'n donker prentjie, maar die goeie nuus is dat God vir ons omgee. Hy is so lief vir ons dat Hy vir ons gedoen het wat ons self nooit sou kon regkry nie. Hy het 'n brug voorsien wat die kloof tussen ons en Hom oorsteek sodat ons vergifnis en herstel in ons verhouding met Hom kan kry.

God het die brug gebou deur na ons op aarde te kom as mens. Hier het Jesus gesterf om so in ons plek die straf (doodstraf) vir ons sonde te betaal. Dit is die boodskap van die Bybel en dit is die boodskap wat God wil he ons almal moet verstaan. Maar dit is nie genoeg dat ons hierdie dinge maar net weet of selfs net daarmee saamstem nie. Ons moet daarop reageer. God wil he ons moet ook oorbeweeg na die ander kant van die kloof.

Ons kan dit alleen doen as ons erken dat ons teen Hom in opstand is en dat ons sy vergifnis en leiding nodig het. Met ons sondes vergewe en ons skuld betaal, word ons verhouding met God herstel. Hierdeur word ons ook volkome opgeneem in sy familie as sy seun/dogter/man/vrou. Al wat nodig is, is om Christus se vergifnis en verlossing te aanvaar en die beheer van sy/haar lewe in God se hand oor te gee.

Vrede

Gabriel

Thursday, May 6, 2010

Geloof uit die hart

Vandag het ek iets uit die hart om te deel met julle. Die afgelope paar maande het ek met baie dinge geworstel. Die hoof beskuldigde was finansies. Ek is sonder vaste inkomste sedert Desember 2009. Elke maand skraap ek net net deur met die kommissies wat ek hier en daar verdien. Ja, julle sal se, ek het dan niks om oor te kla. Julle is reg, ek kla nie, ek wil hierdeur vir julle se dat as jy ten volle glo (in geloof staan met God) en glo dat God jou lewens bestuurder is, sal Hy voorsien soos Hy belowe het.

Ek kan uit die diepte van my hart getuig dat God het werklik aan my en my familie elke maand voorsien. Daardeur se ek nie ons het oorvloed nie, nee, God weet wat ons nodig het en Hy voorsien net wat ons nodig het. Ek is so dankbaar daarvoor dat, niks my anders kan oortuig, dat as dit nie vir my geloof in God en my familie se ondersteuning is nie, het julle nie hierdie stukkie nou gelees nie.

Die volgende teksvers bevestig net my geloof: Ps. 145: 16
U maak u hand oop en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.

Prys die Heer vir hierdie oorvloed.

Verde

Gabriel

Wednesday, May 5, 2010

Die Parakleet

H F Kohlbrugge het die volgende gese:

Die Heilige Gees word die "Trooster" genoem omdat Hy mense wat uit die duister tronk van hulle bestaan na God verlang, uitlei na die lieflike lig van die genade, en omdat Hy altyd die regte, mees troostende woord, op die regte tyd spreek.

Vrede

Gabriel

Tuesday, May 4, 2010

Galasiers 2: 20

Volgens Galasiers 2: 20:

Die filosowe van ouds het van die rede die alleenheerser van die mens gemaak en het alleen na haar geluister as arbiter van gedrag. Maar die Christelike filosofie skuif haar opsy en verklaar volkome onderdanigheid aan die Heilige Gees, sodat die individu nie langer leef en regeer nie.

Vrede

Gabriel

Monday, May 3, 2010

Deur die Heilige Gees geinspireer

Cyril van Alexandrie het die volgende gese:

Een en almal van ons het dieselfde gees ontvang, dit is, die Heilige Gees. Ons is in 'n sin saamgevoeg met mekaar en met God, want as Christus, saam met die Vader en sy eie Gees in elkeen van ons kom woon, al is ons baie, is ons tog in die Heilige Gees een en onverdeeld. Hy bind die geeste van ons almal saam en laat ons voorkom soos een in Hom, want net soos die krag van Christus se vlees verenig tot een liggaam met die wat in Hom woon, dink ek dat op dieselfde manier die een en onverdeelde Gees van God, wat in almal woon, ons lei tot een geestelike eenheid.

Vrede

Gabriel

Sunday, May 2, 2010

Deur die Heilige Gees geinspireer

Gal 2: 19-20.
Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te le.