Powered By Blogger

Thursday, June 17, 2010

Innerlike kennis

Heilige God en liefdevolle Vader, in die stiltes by U ontvang ek ewige wysheid en heerlike inspirasie vir die lewe.

Wanneer jy in stilte bid en met God praat, ontvang jy uit genade wysheid om deur jou dag te kom. As jy wysheid nie reg aanwend nie of jy dink te veel van jouself of jy minag ander, sal wysheid op hou om wysheid te wees wanneer dit te trots word om te ween, te ernstig om te lag, te vol van jouself om die welsyn van ander te soek.

Vrede
Gabriel

Wednesday, June 16, 2010

Gal 2: 20

...en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.

Moenie bedroef wees oor die verlede nie, dit kom nooit weer terug na jou toe nie. Verbeter die teenwoordige met wysheid; dit is joune. Gaan die skaduagtige toekoms met moed en 'n dapper hart tegemeot; God is reeds daar!

Vrede

Gabriel

Tuesday, June 8, 2010

Leer my U liefde, Here

Ewige God van liefde, U is liefde! Leer my ook om waarlik lief te he. U is die Bron van alle ware en standhoudende liefde: wat liefde nie kan oplos nie; dat daar geen ongesteldhied is wat liefde nie kan genees nie; dat daar geen gaping van vervreemding is wat liefde nie kan oorbrug nie; dat daar geen misverstand is wat genoeg liefde nie kan oplos nie; dat daar geen muur van swye is wat liefde nie kan afbreek nie; dat daar geen sonde is wat die liefde nie kan vergeef nie. Liefdevolle Meester, deur u genade weet ons nou: Hoe hopeloos die uitsig ook al lyk, hoe dieplopend die verwydering ook al is, hoe aaklig die sonde ook al is; opregte liefde kan dit alles oplos. Leer my, Here Jesus, om lief te he soos U liefhet ... Suiwer my liefde, louter dit, al moet dit deur vuur heen, sodat ek in hierdie liefdelose wereld in weerkaatsing van u Goddelike liefde sal wees. In die Naam van Jesus Christus, wat sy kinders tot die einde toe liefgehad het. Amen

Lees 1Joh. 4: 4-8

Vrede
Gabriel

Wednesday, June 2, 2010

Uit liefde het U vir my gely

God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom 5: 8)

Die volgende gebed het ek uit een van Solly Osrovech se boeke gekry. Ek plaas dit spesiaal vir daardie persone wat vandag en ander dae mismoedig is en God se nabyheid soek. Hierdie gebed sal jou laat besef dat God se liefde vir jou oneindig is.

Ek het U hartlik lief, o Heer! Ek strek in diepe afhanklikheid my hande na U toe uit. Sonder u bystand sal ek die pad vorentoe byster raak. Ek loof U vir al die ryke en onverdiende seeninge wat reeds uit u genadehand my toegeval het....
En vir die genade om my teespoed te verwerk. Ek het U hartlik lief, o Heer! U het my eerste lief gehad en om my ontwil gely: toe U in Betlehem mens geword het; toe U tussen ondankbare, skynheilige en ontroue mense geleef en gewerk het met liefde; toe U by Gabbata deur die wereldse regbank onskuldig veroordeel is; toe U in Getsemane om my ontwil bloed gesweet het. Ek het U hartlik lief, o Heer! U het die dood triomfantlik oorwin en 'n lee graf agtergelaat; U het verheerlik hemel toe gegaan om daar vir my te bid; U het u Heilige Gees gestuur om my te lei, te leer en te troos. Ek het U hartlik lief, o Heer! Lei my met die vaste wil in my hart om uit liefde u wil te doen, u Naam te verheerlik en tot u eer te leef, te werk en te bid. In die heerlike Naam van my Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus. Amen

Met hierdie gebed vars in jou geheue, loof die Here en plaas alle probleme in sy hande, want Hy het jou lief.

Vrede

Gabriel