God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom 5: 8)
Die volgende gebed het ek uit een van Solly Osrovech se boeke gekry. Ek plaas dit spesiaal vir daardie persone wat vandag en ander dae mismoedig is en God se nabyheid soek. Hierdie gebed sal jou laat besef dat God se liefde vir jou oneindig is.
Ek het U hartlik lief, o Heer! Ek strek in diepe afhanklikheid my hande na U toe uit. Sonder u bystand sal ek die pad vorentoe byster raak. Ek loof U vir al die ryke en onverdiende seeninge wat reeds uit u genadehand my toegeval het....
En vir die genade om my teespoed te verwerk. Ek het U hartlik lief, o Heer! U het my eerste lief gehad en om my ontwil gely: toe U in Betlehem mens geword het; toe U tussen ondankbare, skynheilige en ontroue mense geleef en gewerk het met liefde; toe U by Gabbata deur die wereldse regbank onskuldig veroordeel is; toe U in Getsemane om my ontwil bloed gesweet het. Ek het U hartlik lief, o Heer! U het die dood triomfantlik oorwin en 'n lee graf agtergelaat; U het verheerlik hemel toe gegaan om daar vir my te bid; U het u Heilige Gees gestuur om my te lei, te leer en te troos. Ek het U hartlik lief, o Heer! Lei my met die vaste wil in my hart om uit liefde u wil te doen, u Naam te verheerlik en tot u eer te leef, te werk en te bid. In die heerlike Naam van my Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus. Amen
Met hierdie gebed vars in jou geheue, loof die Here en plaas alle probleme in sy hande, want Hy het jou lief.
Vrede
Gabriel

No comments:
Post a Comment