Powered By Blogger

Monday, May 10, 2010

Die Evangelieboodskap

God het ons goed geskep en Hy gee om vir ons. Daarom wil Hy he dat ons in 'n verhouding met Hom moet lewe. Maar ons het in opstand gekom teen God. Ons verontagsaam Hom. Ons sonde het 'n kloof tussen ons en God veroorsaak en daarmee is die verhouding tussen ons en God verbreek.

Die meeste mense is diep binne-in bewus van hierdie kloof tussen God en ons en hulle probeer daarom die kloof oorsteek deur goeie dade te doen, soos om behulpsaam te wees, kerk toe te gaan en geld te gee vir armes. Dit alles is goeie dinge en daar is niks mee verkeerd om dit te doen nie, maar die Bybel maak dit duidelik dat niemand deur wat hy/sy doen, God se vergifnis kan koop of die verhouding tussen God en hom/haar kan herstel nie.

God se regverdigheid eis dat die sonde gestraf moet word. Die straf wat ons verdien, is die dood, wat beteken dat ons geestelik dood is en vir ewig van God geskei is. Dit is maar 'n donker prentjie, maar die goeie nuus is dat God vir ons omgee. Hy is so lief vir ons dat Hy vir ons gedoen het wat ons self nooit sou kon regkry nie. Hy het 'n brug voorsien wat die kloof tussen ons en Hom oorsteek sodat ons vergifnis en herstel in ons verhouding met Hom kan kry.

God het die brug gebou deur na ons op aarde te kom as mens. Hier het Jesus gesterf om so in ons plek die straf (doodstraf) vir ons sonde te betaal. Dit is die boodskap van die Bybel en dit is die boodskap wat God wil he ons almal moet verstaan. Maar dit is nie genoeg dat ons hierdie dinge maar net weet of selfs net daarmee saamstem nie. Ons moet daarop reageer. God wil he ons moet ook oorbeweeg na die ander kant van die kloof.

Ons kan dit alleen doen as ons erken dat ons teen Hom in opstand is en dat ons sy vergifnis en leiding nodig het. Met ons sondes vergewe en ons skuld betaal, word ons verhouding met God herstel. Hierdeur word ons ook volkome opgeneem in sy familie as sy seun/dogter/man/vrou. Al wat nodig is, is om Christus se vergifnis en verlossing te aanvaar en die beheer van sy/haar lewe in God se hand oor te gee.

Vrede

Gabriel

1 comment:

  1. Ek dink geloof sonder werke beteken niks. Ons moet ons diensbaar stel tot Sy gees en die werke wat Hy dan deur ons doen, is ons redding.
    Hy wat nie in God se diens staan nie en net glo, het beslis 'n probleem of hoe dink jy?

    ReplyDelete