Powered By Blogger

Monday, April 12, 2010

Herfsgebed

Van die skepping van die wereld af kan 'n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is. (Rom. 1: 20)

Dis herfs, Here my God, herfs wat so gou gekom het met sy rypheid en rykdom van blare- en kleureweelde. Die asemrowende skoonheid van u skepping bring 'n weemoedige pyn in ons hart. Waarom, Here? Omdat ons reeds so ver geloop en so min gevorder het? Dankie, Meester, vir geestelike groei en rypwording, wat uitloop op rustigheid en vervulling. Dankie vir die wete dat al vergaan die uiterlike mens, ons innerlike elke dag vernuwe word. Hierdie is ook 'n tyd van die jaar wanneer ons U as die Man van smarte op u lydensweg volg. In die herfs is dit soveel meer 'n werklikheid. U lyding was vir die wereld, ja, maar ook vir my. Dis reeds herfs en u kosbare belegging van bloed en trane het nog so weinig dividende in my lewe afgewerp. U het u lewe vir my afgele, al was ek dit nie werd nie. In diepe dankbaarheid wy ek opnuut my gees en my liggaam. Laat my, o Vader, u liefde in Christus se lyding sien en laat die wereldgesindheid soos herfsblare van my lewe afval. Lei my in hierdie tyd in die lig van u vriendelike aangesig. AMEN

Vrede

Gabriel

(Gebed uit die boek: Gebede vir jou lewenspad, Solly Ozrovech)

No comments:

Post a Comment