Powered By Blogger

Sunday, February 14, 2010

Gebed

Gebed help my teen versoekings.

Versoekings het nie net te make met dinge wat ek nie mag doen nie, ek dink dit het eerder te make met die versoeking om nie te doen wat ek weet ek behoort te doen nie. Ek was al in ontelbare baie situasies waar ek geweet het dat ek iemand moet vertel van die Here Jesus, ek kon nie - ek het toegegee aan die versoeking om nie te praat nie.

In die nag voor Jesus se dood is Hy alleen in Getsemane, in gebed. In hierdie oomblikke weet Jesus wat vir Hom wag, hulle gaan Hom gevange neem, martel, verhoor, kruisig en begrawe.

Vir sy dissipels het Jesus 'n waarskuwing, hulle moet bid dat hulle nie in die versoeking sal kom nie. Die versoeking om te maak of hulle Hom nie ken nie wanneer die gevaar dreig.

Jesus is ons voorbeeld. In Getsemane bid Hy so intens dat sy sweetdruppels soos bloed op die grond val. Hy bid dat Hy ook nie sal toegee aan die versoeking om nie God se wil te doen nie.

So as jy weer voor enige versoeking staan, bid en vra die Here om jou help. Wanneer die stemmetjie jou aankla oor iets wat jy gaan doen of reeds gedoen het, gaan op jou knie en bid dat die Here jou moet help en vergewe.

Tot volgende keer.
VREDE

No comments:

Post a Comment