Ek gaan die week afsluit met een van Solly Ozrovech se gebed uit Gebede vir jou lewenspad (Binnekamergesprekke met God)
Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra (Matt. 6: 7-8).
Ons Vader wat in die hemel is,
hoe groot is u genade dat ons U Vader mag noem!
Ons buig voor U liefde
wat van sondaars U kinders maak.
Laat U Naam geheilig word,
laat ons lewe strek tot verheerliking van U Naam
sodat ons saam met die engele U heiligheid kan bely.
Laat U koningkryk kom, in my hart, o Meester.
Heers daar deur U Heilige Gees,
Maak my 'n betroubare getuie
van U reddende genade
sodat die wereld sal weet dat U mense red
vir U koningkryk.
Laat U wil op die aarde geskied.
Dit is soms moeilik om U wil te ken -
en te begryp, Here.....
Neem daarom beheer oor van my lewe
en lei my na U wil.
Net soos in die hemel -
totdat elke knie voor U buig en elke tong bely:
Christus is die Here!
Tot heerlikheid van die God die Vader!
Skenk ons dit wat ons waarlik nodig het
om van te leef.
Vergeef ons ons oortredings,
nie omdat ons dit verdien nie,
maar omdat U liefde so groot is.
Help ons daardeur om die te vergewe
wat teen ons oortree.
Laat ons nie in die versoeking kom nie,
maar verlos ons van die Bose.
Hou ons staande teen die versoekings
deur die krag van Jesus Christus.
Aan U behoort die koningkryk en die krag
en die heerlikheid
tot in ewigheid.
AMEN
Vrede tot volgende keer
Gabriel

No comments:
Post a Comment